fbpx

Hanskraal se 6 wenke vir die perfekte potjie!

Apr 28, 2021 | Tips

As jy dink aan Afrikaanse kultuur, waaraan dink jy? Vir die Hanskraal-span kom ’n potjiekosbraai eerste op. Die vuur word aangesteek, die kole eenkant gekrap, die potjie opgesit om rustig te prut en die geselligheid van vriende en familie maak die atmosfeer net nog lekkerder.

Tog kan ’n slegte bord kos ’n heerlike kuier bederf. Is jy ’n potjiekoskoning of leer jy nog die kuns van potjiemaak? AJ du Toit het ’n paar potjiewenke wat ’n lekker maaltyd kan verseker.

1. Kies die regte grootte pot

Potjies kom in verskillende groottes en dis belangrik om een te gebruik wat gepas is vir die hoeveelheid mense wat jy nooi. Ou potjiekoslegende Andries Krogmann het by die “maal met vier”-formule gehou: as 8 mense die potjie gaan geniet, kies die nommer 2-pot. Vir 16 mense sal die nommer 4-pot werk.

2. Brand hom eers in

’n Nuwe potjie vars van die winkelrak af moet eers skoon gebrand word voor jy die eerste keer potjiekos maak. Maak die potjie vol water en ou groenteskille (soos uie, aartappels en wortels). Plaas die potjie op die kole en laat dit ’n paar uur prut voor jy alles uitgooi. Borsel die binnekant van die pot met ’n skropborsel. Spoel dan met skoon water uit, maak die pot weer vol water, kook vir nog so 2 ure en gooi die water weg. Nou is jou potjie gereed!

3. Lae is noodsaaklik, sowel as die volgorde waarin jy dit byvoeg

Die geheim van ’n heerlike potjie het te doen met die lae waarin jy die bestanddele byvoeg. Ons begin altyd met gehalte-Hanskraalvleis en voeg dan die stysel (soos bv. aartappels, want dit neem langer om te kook) en laastens die res van die groente (soos sampioene, ens.) by. Met goeie, behoorlike Hanskraalvleis in die bodem van die pot trek die lae in die potjie besonderse geure regdeur. Dit verseker die smaaklikste dis.

4. Hoe langer die potjie op die kole bly, hoe beter

As dit ’n vleispotjie is, kan die potjie minstens 5 ure benodig. Moenie jou potjiekos afjaag of kortpaaie neem nie. Hoe stadiger dit prut en hoe meer aandag jy dit gee, hoe lekkerder proe dit aan die einde.

5. Wanneer alles in is, moenie die potjie te veel roer of die deksel lig nie!

Solank die deksel toe bly, behou die potjie die hitte, sowel as die heerlike geure wat binne opbou. Wanneer ’n potjie gereeld geroer word, val die bestanddele uitmekaar en jou potjiekos raak pap.

6. Onthou om die kooktyd met geliefdes te spandeer

Nes die wenk hierbo sê: Gebruik jou potjiekos-avontuur om ure lank om die vuur te kuier met mense wat vir jou belangrik is. As kok kan jy ontspan, die geselskap geniet en die potjie los om al die harde werk te doen.

Nog ’n paar BYKOSSE wenke van ELMIEN:

  • ’n Varsgebakte potbrood werk lekker saam met potjiekos in plaas van ’n gewone rysdis.
  • Potjiekos vat baie lank om gaar te word. Maak dus seker daar is ligte peuselhappies en genoeg drankies vir jou gaste beskikbaar.
  • Al gebruik jy net lae kole maak seker jou vuur brand aanhoudend om genoeg kole te hê, asook ’n gesellige atmosfeer te skep.

Buiten hierdie wenke om die perfekte potjie te maak is daar een laaste stap wat jy nie moet vergeet nie. Bestel die regte gehalte-vleis. Hanskraal het ’n verskeidenheid plaasvars vleisprodukte beskikbaar vir enige tipe pot. As jy lus is vir kerrielamspotjie bestel ons lamsbladskenkels. Oorweeg jy ’n hoender-en-pastapot? Ons het gesonde hoenderborsies wat perfek sal werk. Ons het selfs lekker biltong vir ’n romerige biltongpotjie.

Bestel jou gehalte-vleis hier.